Abstract
In 'n wêreld deurdrenk met geweld - beide subjektief en objektief beskou - tref mens protes as 'n teken van gemeenskaplike ontevredenheid aan. Die beweegrede onderliggend aan protesaksie word egter gereeld misken vir wat dit in werklikheid is, naamlik solidariteit met diegene wat onreg ly. Daar was die afgelope twee dekades plaaslik en internasionaal 'n skerp toename in openbare protes, met 'n gepaardgaande toename in teorieë wat oor die oorsake hiervan bespiegel. Ondanks 'n verskeidenheid voorstellings is dit nietemin steeds onduidelik "waaroor ons praat wanneer ons van protes praat", in die mate waarin die grondbeginsels van protes slegs binne beperkte epistemologiese gemeenskappe (en nie in die algemeen nie) oorweeg word. Hierdie artikel besin oor die aard van protes as 'n politieke handeling wat op 'n kontinuum wat wissel van opposisiepolitiek tot burgeroorlog lê. Hierdie kontinuum verskaf 'n gegradeerde beskouing wat uitdrukkings van ontevredenheid orden volgens die erns van die uitkoms. Voorts bied die artikel 'n abstrakte voorstelling van die onderskeie afdelings van protesvorming as sodanig, waaronder griewe, gebare en taktiese maatreëls. Van nader beskou, blyk hieruit dat protes getipeer kan word as 'n openbare uitdrukking van 'n niehegemoniese, etiese verbintenis tot geregtigheid, 'n optrede wat moed en koördinasie verg, en waarvan die uitkoms altyd onvoorspelbaar is; dit wil sê, 'n daad van liefde. Ten slotte word die episode van openbare geweld en plunder in Julie 2021 in Suid-Afrika aan die hand van die voorgestelde raamwerk ondersoek en bespreek.
Publisher
Academy of Science of South Africa
Subject
General Social Sciences,General Arts and Humanities