Affiliation:
1. Instituut vir Mannekragnavorsing, Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, Privaatsak X41, Pretoria 0001, Republiek van Suid-Afrika
Abstract
Die naskoolse studieloopbane van hoërskoolleerlinge wat van 1965 tot 1969 aan die RGN se Projek Talentopname deelgeneem het, is van 1970 tot 1980 opgevolg om studierigting en studiesukses te bepaal. In hierdie ondersoek is die toetsgegewens wat op skoolvlak verkry is met universitêre studiesukses in verband gebring. Die doel daarmee was om te bepaal of sekere gestandaardiseerde sielkundige meetinstrumente tussen breë universitêre studierigtings kan onderskei met die oog op die gebruik daarvan in onderwys- en beroepsleiding. Die mate waarin sielkundige meetinstrumente suksesvol in onderwys- en beroepsleiding gebruik kan word, word bepaal deur die mate waarin sodanige metings tussen breë universitere studierigtings kan onderskei. Om dit te bepaal, is die tegniek van diskriminantontleding gebruik en is groepe se sentroïdes in 'n tweedimensionele diskriminantruimte grafies voorgestel. Die agt breë studierigtings ten opsigte waarvan die onderskeidingsvermoë van die meetinstrumente bepaal is, was die volgende: Toegepaste natuurwetenskappe; suiwer natuurwetenskappe; toegepaste geesteswetenskappe; suiwer geesteswetenskappe; ingenieurswese; medies, tandheelkunde, en veeartsenykunde; handel en administrasie; en regte. Die resultate van die ondersoek dui daarop dat die betrokke sielkundige meetinstrumente betekenisvol tussen breë studierigtings onderskei en gevolglik met vrug in onderwys- en beroepsleiding gebruik kan word. Hierdie artikel is gebaseer op 'n verslag wat gedurende 1984 deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing gepubliseer is.