Abstract
Sedert die ontdekking van die ruteniumbevattende prekatalisatore, Grubbs 1 (1) en Grubbs 2 (2), is ’n toename in die ontwikkeling van soortgelyke prekatalisatore getoon. Daar is egter nie met die karakterisering van die prekatalisatore met behulp van kernmagnetieseresonansiespektrometrie (KMR) tred gehou nie. Die gerapporteerde KMR-analises en -karakterisering is meestal tot 1H-, 31P-, COSY-analise beperk met seldsame vermelde 13C-analise. Die hoë natuurlike isotoopvoorkoms van 1H- en 31P-kerne, 99.98% en 100% onderskeidelik, is ’n bydraende faktor tot die vinnige en eenvoudige opname van hierdie spektra. Die leemte in literatuurdata en- opnameparameterstelle aangaande 13C-KMR-analise, word aan die lae natuurlike isotoopvoorkoms van 13C-kerne (1.10%) en die ingeperkte stabiliteit van die katalisatore in oplossing toegeskryf.
In hierdie ondersoek is prekatalisator 1 gebruik om ’n KMR-parameterstel te ontwikkel. Daarna is twee verdere kommersiële Grubbs-tipe-prekatalisatore, 2 en 3, met behulp van hierdie KMR-parameterstel geanaliseer. Die KMR-spektra is weens die lang opnametyd en die onstabiliteit van die prekatalisatore in oplossing in drie stappe opgeneem. Eerstens, is 1H-, COSY-, HSQC- en HMBC-spektra opgeneem, wat altesaam vier ure geduur het. Tweedens, is DEPT135-spektra opgeneem, wat drie ure in beslag geneem het. Laastens is die 13C-spektra opgeneem waarvoor 7 ure in beslag geneem is.
Die KMR-parameterstel wat vanaf die kommersiële prekatalisatore afgelei is, is gevolglik aangewend om ses verdere gesintetiseerde, nie-kommersiële Grubbs-tipeprekatalisatore, 4 tot 9, gedeeltelik te karakteriseer. Deur die voorkoms van oorvleuelende pieke in die aromatiese en alifatiese gebiede is die spektrumresolusie verlaag. Gevolglik is die volledige karakterisering nie moontlik gemaak nie.